(Jwplayer)

July 7, 2016

Afrikaner game farmer who was jailed for shooting dead illegal hunting dogs on his farm, now files damages claim for unlawful arrest


Boer eis ná nag in sel oor skiet van 2 honde

Bethlehem. – ’n Wildboer wat twee honde op sy plaas geskiet het en aanvanklik weens poging tot moord aangekeer is, gaan nou ’n eis weens onregmatige inhegtenisneming teen die staat instel.

Gary Miller, wat grond net buite Bethlehem op pad na Warden huur, het op 3 November 2015 vier honde binne sy plaasgrense gesien wat gelyk het asof hulle gejag het.

Miller het twee van die honde met ’n jaggeweer doodgeskiet.

Aanvanklik is probeer om Miller weens poging tot moord te vervolg. Die klag is later na opsetlike saakbeskadiging verander.

Dié saak is later deur die direkteur van openbare vervolging in Bloemfontein teruggetrek.

Miller se prokureurs, Johan Niemann en Jaco Griffiths, sê die eis weens onregmatige inhegtenisneming is reeds in die proses om ingedien te word.

Die oggend toe die honde geskiet is, het Miller Niemann omstreeks 10:15 ontbied. Dit was toe dat sowat 15 polisiebeamptes opgedaag het om hom in hegtenis te neem.

Dit het ballistiese kenners, lede van die honde-eenheid en verskeie beamptes wat hoë poste in die polisiediens beklee, ingesluit.

Niemann sê hulle wou hom weens poging tot moord in hegtenis neem. Daar was volgens Niemann ook mense wat beweer het Miller het op hulle geskiet.

Op die toneel het Miller en Niemann aan die polisie gewys daar was nie mense naby die honde toe hulle geskiet is nie.

Die polisie, Niemann en Miller het toe die vuurwapen vir die polisie se ondersoek in die huis gaan haal. Hulle is omstreeks 11:45 saam na die polisiekantoor.

Die ondersoekbeampte was volgens Niemann in daardie stadium ’n kaptein.

Niemann het probeer om ’n dringende borgtogaansoek te reël, maar teen 14:30 het die hoof van die speurtak op Bethlehem die saak oorgeneem.

Die regspan het die nuwe ondersoekbeampte in kennis gestel dat hy teenwoordig wil wees wanneer die kliënt verder ondervra word.

Niemann was toevallig om 17:45 weer na die toneel toe polisievoertuie weer met Miller op die plaas aangekom het sonder dat die polisie Niemann in kennis gestel het.

Nadat die forensiese en die honde-eenheid weer die toneel gefynkam het, is al die polisiebeamptes na Miller se huis. Hier het hulle voor Miller se vrou, kinders en ’n kleinkind op sy vuurwapens en ammunisie beslag gelê. Dit het tot omstreeks 20:30 geduur.

Niemann het tydens dié ondersoek ’n doktersbrief aan die polisie gegee waarin ’n dokter na Miller se ernstige diabetes verwys het. Die dokter het voorgestel dat Miller onder polisiebewaking in die hospitaal aangehou word. Volgens Niemann het die polisielede aan hom gesê hulle aanvaar nie die brief nie. Miller het die nag in ’n polisiesel deurgebring.

Die volgende dag het die staatsaanklaer die dokumente na die direkteur van openbare vervolging in Bloemfontein gestuur. Teen 14:00 is die klag na opsetlike saakbeskadiging verander.

Niemann het toe namens sy kliënt ’n klag van betreding ingedien teen die mense wat glo met die honde op die plaas was.

Een van die eienaars van dié honde is ’n polisiebeampte. Miller is deur die hof gewaarsku en vrygelaat.

Griffiths sê ingevolge die Natuurbewaringsordonnansie 8 van 1969 is ’n natuurbewaringsbeampte gemagtig om enige hond op enige stuk grond waar wild (insluitend kleinwild en hase) voorkom of moontlik kan voorkom, wat besig is om te jag of wat besig is om wilde diere te soek, van kant te maak. Dit sluit natuurlik gevalle uit waar dit ’n wettige jagtog is en waar met die nodige permitte en toestemming gejag word.

Dieselfde bevoegdhede word in terme van die ordonnansie ook aan ’n grondeienaar gegee.

Toe die prokureurs dié wetgewing by wyse van voorlegging onder die aandag van die vervolgingsgesag gebring het, is die klag van saakbeskadiging ook laat vaar.

Volgens Miller was die plaaslike inspekteur van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ook op die toneel.

Niemann het hy bevind die honde het nie pyn verduur nie en hy het ook die polisie ingelig dat dit onwettig is om met honde te jag.
https://facebook.com/story.php?story_fbid=1432682866758254&id=116298045063416

#StopWhiteGenocideInSA