Die 30-jarige dokter, wat by die Pelonomi-hospitaal in Heidedal in die stad werk, is Woensdagaand omstreeks 21:30 deur twee mans, waarvan een gewapen was, in Groenewoudstraat in Universitas gekaap.
Volgens die dokter, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het hy buite by sy motor met sy vriendin (23) gestaan en gesels toe die mans hulle nader.
"Een van die mans het 'n pistool gehad en dit oorgehaal. Hy het my begin deursoek en my beursie en selfoon uit my broeksak gehaal. Ek het vir my vriendin gesê om weg te hardloop.
"Hulle het my kar se sleutel geëis. Die ander man, wat nie gewapen was nie, het die kar se bagasieruim oopgemaak, "sê hy.
Die booswigte het hom in die bagasieruim gegooi en met sy rooi BMW weggery.
Hy kon daarin slaag om sowat 500 meter verder die bagasieruim oop te kry en weg te hardloop.
"Daar is 'n knoppie waar die bagasieruim in 'n noodgeval oopgemaak kan word. Ek het dit een keer probeer, maar toe ek dit oopmaak, het die mans gestop en dit weer toegemaak.
"Toe het ek dit die tweede keer probeer, uitgespring en weggehardloop. Die mans het ook uit die motor geklim en my probeer agternasit, maar dit (dit later) gelos. "
Hy het twee vroue in Stevenstraat raakgeloop en hulle gevra om die polisie te bel.
Die dokter sê hy vermoed die kapers het vroeër verby hom gery. Daar was meer as twee van hulle en hulle het nie ver van hom en die meisie af geparkeer nie.
Hy is verlig hy en sy vriendin het niks oorgekom nie.
"As dit nie vir daardie noodgevalknoppie was nie, wie weet waar ek sou geëindig het? Toe ek die motor gekoop het en wat verkoopsman my daarvan vertel, het ek nie gedink ek sal dit nodig kry nie. "
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie soek steeds na die gekaapte motor en die verdagtes.
'N Klag van kaping word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/bfn-dokter-ontsnap-uit-kattebak-na-kaping-20160505
#StopWhiteGenocideInSA