Me. Ems Reynierse wys hoe haar voordeur versterk is nadat die koevoetbende die deur oopgeskop het.
Bejaarde vlug voor koevoetbende
Terwyl ‘n bejaarde vrou paniekerig vir hulp agter haar kamerdeur gebel het, het die koevoetbende doodluiters voortgegaan en deure afgebreek
Dit was soos ‘n rolprent wat afgespeel het. Niks is meer skelmproof nie en hulle wéét dit gaan die polisie ‘n rukkie vat om by ‘n mens uit te kom!” het me. Ems Reynierse (73) dié week uitgeroep.
Sy het nie dadelik die Observer van die voorval in kennis gestel nie, “want ek is ‘n baie privaat mens. Maar nadat ek van al die misdaad in die koerant gelees het die afgelope tyd, het ek besluit om te vertel wat by my gebeur het. So kan ek dalk net één persoon kry om hul hekke en huise te beveilig.”
Me. Reynierse vertel sy was omstreeks 11:00 besig om vir haar ‘n tert te bak by haar huis in Mineralia. Sy was doenig in die spens om bestanddele te kry, toe dit vir haar klink soos iemand wat teen ‘n deur skop.
Sy kon niks deur die spensvenster sien nie en is sitkamer toe waar sy deur die sitkamervenster geloer het.
“My hart het amper gaan staan, want net ‘n treë weg van die venster af, het een gestaan met die koevoet nog in sy hand. My veiligheidshek was reeds oopgebreek en hulle was al besig om die houtdeur af te skop!”
Me. Reynierse het ook gesien dat haar palissadehek oopstaan en dat ‘n wit voertuig in haar oprit parkeer is.
Sy het deur die venster geskreeu: “Wat doen julle? Ek gaan die polisie bel!”
Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde het sy gedink hulle hardloop weg, want hulle het in die rigting van die voertuig gevlug. Dieselfde tyd het die alarm buite afgegaan.
Die verligting was egter van korte duur, want hulle het net weer teruggekom na die deur toe en probeer om dit af te skop.
Me. Reynierse het spens toe gehardloop, haar selfoon gegryp, gehardloop tot in die gang en dié deur agter haar gesluit. Met bomenslike krag het sy ook na haar slaapkamer gehardloop, die deur agter haar toegeslaan en dit gesluit. “Ek het gevlug vir my lewe!”
Die oomblik toe sy die kamerdeur sluit, het haar selfoon gelui en was dit die alarmbesigheid wat navraag gedoen het.
Terwyl me. Reynierse vir die vrou oor die selfoon geskreeu het daar is twee mans in haar huis, het sy deur die venster gesien hoe die twee met haar grootskerm televisie by die voordeur uitstap. “Ek het vir haar gesê, maak gou, daar loop hulle met die televisie!”
Me. Reynierse het in haar kamer gewag totdat die alarmbesigheid opdaag en gevra dat hulle by die voordeur ingaan om te kyk of alles veilig is.
“Toe ek my kamerdeur oopsluit, het nóg ‘n skok op my gewag. Die gangdeur was ook reeds oopgeskop. Terwyl ek met haar op die foon was, het hulle daardie deur ook oopgebreek. In my histerie het ek dit seker nie gehoor nie!”
Me. Reynierse se seun, Chris, het dieselfde aand plate voor die hekmotor vasgesweis sodat niemand toegang tot dit kan kry nie. “Dit is verspot maklik om die hekmotor oop te breek, die hek oop te maak en dit van die spoor af te tel!” Die hek word nou ook vasgesluit met slotte, met ‘n versterkplaat.
Die veiligheidshek by die voordeur is versterk, ekstra slotte op die houtdeur gesit én ‘n veiligheidshek in die gang opgesit. “Ek bly nou in ‘n tronk, maar as hulle by my uitgekom het, dink net wat sou hulle met my aangevang het!”
• Dié voorval het net weer ou wonde vir me. Reynierse oopgeruk, aangesien sy en haar kleinseun, Leandro (op daardie stadium 19) in Maart 2012 by dieselfde huis oorval is.
Rowers het hulle in die huis verras toe hulle teruggekeer het vanaf die dorp. Me. Reynierse is met breë maskeerband vasgebind, op die grond neergegooi en geklap en in die ribbes geskop.
Leandro is met kabelbinders vasgemaak en só erg met ‘n rewolwer in die gesig geslaan, dat sy neus gebreek het.
Die rowers het hulle aangehou met ‘n rewolwer en ‘n swaard.
Volgens me. Reynierse het die bende van drie hul gesigte verberg met een van haar serpe, van haar nagklere wat geskeur is en ‘n masker (wat lyk soos dié wat dokters dra).
Die inbrekers van die onlangse geval, asook die rowers van destyds is steeds op vrye voet.
• Me. Reynierse is welbekend op die dorp, aangesien sy vir jare die vriendelike haarkapper was by Elite Manshaarkappers. http://mobserver.co.za/36374/bejaarde-vlug-voor-koevoetbende/