NIGEL – Vier vermeende veediewe wat op 15 September op ‘n bekende plaas buite die dorp vasgetrek is (HERAUT 23 September), se borgaansoek is op 22 Oktober in Nigel Landdroshof van die hand gewys
Dit volg nadat hulle tydens arrestasie van veediefstal aangekla is.
Die mans is op heterdaad deur lede van die SAPD se veediefstaleenheid en privaat ondersoekspan van ‘n sekuriteitsmaatskappy betrap. Die karkasse van verskeie stoetbulle met ‘n waarde van ongeveer R25000 elk, is tydens die arrestasie in besit van die mans gekry.
Tydens die uitspraak van die borgaansoek, is die brutaliteit wat met die veediefstal gepaardgegaan het, deur landdros Mohammad Matwadi uitgelig. Die vermeende veediewe is van Etwatwa, Daveyton afkomstig en twee van die mans het reeds vorige veroordelings, waarvan een op parool was toe die misdaad gepleeg is. Die landdros het ook sy kommer uitgespreek dat twee van die mans nie Suid-Afrikaanse burgers is nie en dat die moontlikheid van vlugrisiko bestaan.
Hy het bygevoeg dat veediefstal in hierdie saak as ‘n klagte 5-oortreding (baie ernstig) bestempel word, aangesien die verlies sowat R100 000 beloop.
Die saak is tot 26 November uitgestel, waarna die verhoor sal begin. http://heidelbergnigelheraut.co.za/6862/geen-borg-vir-veediewe/
Also read:
#FarmAttack