"I kept on praying... My biggest fear was that he would do something to my wife and daughter... "
Bloedbevlekte handdoeke in ’n groot plas bloed en bloederige voetspore het Dinsdag getuig van wat vroeër die middag in die ruim gesinswoning gebeur het. Buite het bure van die gesin, wat versoek het dat hul identiteit nie bekend gemaak word nie, saamgedrom terwyl verskeie polisievoertuie en forensiese ondersoekers op die toneel was.
Die polisie ondersoek twee sake van aanranding met die opset om ernstig te beseer sowel as een van gewapende huisroof. ’n Gemaskerde inbreker het die man en vrou sowat een uur uit mekaar oorval toe hulle tuiskom en hom skynbaar verras het ná hy by die huis ingebreek het. Hulle was weg om die laaste voorbereidings vir hul beplande vakansie te tref toe die man, en later sy vrou en hul dogter, by die huis aangekom het.
“Toe ek by die voordeur inkom het ek dadelik onraad vermoed. Oral in die portaal het sakke gelê,” vertel die man. Voor hy kon reageer, het die inbreker op hom toegesak en hom twee maal met ’n mes gesteek – een maal in elke skouer. Hy is grond toe gedwing waar hy vasgemaak en geblinddoek is en vir sowat ’n uur bly lê het terwyl die rower sy soektog deur die huis voortgesit het. “Ek het net bly bid. My grootste vrees was dat hy iets aan my vrou en dogter sou doen.”
Sy vrees is bewaarheid toe sy vrou die huis ingestap het en ook oorval is. Sy is ná ’n struweling langs haar man op die grond neergedwing. Haar man, wat intussen probeer het om hul aanvaller van sy voete te stamp, is met die kolf van ’n vuurwapen wat uit die kluis gesteel is, oor die kop geslaan. Die aanvaller het gevlug ná die egpaar se dogter by die bure hulp gaan soek het. Toe hulle tuis kom was sy kort op haar ma se hakke, maar dié het vir haar geskree om weg te hardloop.
Hul bure se reaksie was oorweldigend, vertel die egpaar. Een buurman het met die erg beseerde man, wat reeds baie swak was weens geweldige bloedverlies, na die Robertson-hospitaal gejaag. ’n Kliniekdokter wat ook in die buurt woon is saam om deurentyd hulp te verleen. “Ons is geweldig dankbaar vir elke persoon se hulp,” sê die egpaar.
Intussen soek die polisie na die verdagte. Hy is kort en skraal. Enigiemand wat enige verdagte mense in die gebied opgemerk het, kan die polisie by 023 615 8120 bel.
http://www.netwerk24.com/ZA/Boland-gazette/Nuus/inbreker-laat-bloedspoor-20160429-2
#StopWhiteGenocideInSA