Skaars drie weke nadat hy weens moord op parool vrygelaat is, het Herman Jabar (43) weer met die gereg gebots.
Jabar se enkel is Vrydagmiddag morsaf geskiet toe hy deur die polisie aangekeer is terwyl hy ’n juwelierswinkel in die onderdorp van eMalahleni (Witbank) probeer beroof het.
Die aanloop tot die rooftog was enkele ure vroeër toe kapt. Abel Aphane, wat voetpatrollie naby die dorp se taxi-staanplek gedoen het, na bewering deur Jabar en sy makkers aangeval is.
Aphane is twee keer met ’n stuk pyp oor die kop geslaan en van sy dienspistool beroof.
Twee uur later het Jabar na bewering die American Swiss juwelierswinkel beroof.
Toe die veiligheidswag Jabar probeer voorkeer, is hy in die arm gewond.
Polisiemanne wat in daardie stadium daar naby met ’n teenmisdaadveldtog besig was, het die skoot gehoor en het na die winkel gehardloop.
Jabar het glo die 9 mm-pistool wat hy by hom gehad het op die polisie gerig.
Hy is in die enkel geskiet voordat hy op die polisie kon losbrand.
Hy is onder polisiebewaking in die provinsiale hospitaal opgeneem.
Volgens kapt. Eddie Hall is al die gesteelde juweliersware en kontant teruggevind.
Jabar is onlangs op parool vrygelaat nadat hy ’n vonnis van 20 jaar vir moord uitgedien het.
http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/man-geskiet-in-rooftog-kort-nadat-hy-parool-kry-20160516
#StopWhiteGenocideInSA