ʼn Wes-Kaapse man is Dinsdagaand op ʼn plaas in die Overbergdistrik naby Bredasdorp vermoedelik deur veediewe met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Hendrieka Visser het Donderdag aan Maroela Media gesê die omstandighede rondom haar man, Kobus (54), se dood is nog nie duidelik nie. Sy het verduidelik dat Kobus sedert 2009 vir ʼn maatskappy gewerk het wat die veiligheid op ʼn klomp plase in die distrik behartig het. “Hy is Dinsdagaand uitgeroep na ʼn plaas waar die mense iets gehoor het, vermoedelik veediewe. Ek weet nie wie hom gebel het om te gaan kyk nie, maar hy het gegaan,” het sy gesê. “Later die aand het hulle my gebel om te hoor of ek enige kontak met Kobus gehad het, want hulle bel hom maar hy antwoord nie. Hulle het na hom gaan soek en een van die boere het hom in die veld gekry.” Kobus is met ʼn skerp voorwerp doodgesteek, maar dit is nie duidelik hoeveel steekwonde aan sy liggaam gevind is nie. Volgens Hendrieka is dit die eerste keer wat Kobus so direk in gevaar gestel is sedert hy as veiligheidsbeampte begin werk het. “Daar het nog nooit so iets met enige van die veiligheidsbeamptes gebeur nie,” het sy hartseer gesê.
“Kobus was my ander helfte, my pasmaat. Hy was die legkaartstuk wat die prentjie van my lewe volgemaak het.” Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn saak van moord ondersoek word. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Behalwe sy vrou laat Kobus ook sy vier kinders en twee kleinkinders agter. Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.
http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/man-op-plaas-doodgesteek-hy-was-my-ander-helfte/
#StopWhiteGenocideInSA