(Jwplayer)

November 4, 2015

#MURDER : Afrikaner man, Johan van Aswegen (32) mysteriously dies, body found on highway in Pretoria


ʼn Gebroke ma en tante soek antwoorde nadat Johan van Aswegen (32), van Alberton aan die Oos-Rand, se liggaam onder raaiselagtige omstandighede langs ʼn snelweg in Pretoria opgespoor is.
Berig deur Phillip Bruwer. ʼn Gebroke ma en tante soek antwoorde nadat Johan van Aswegen (32), van Alberton aan die Oos-Rand, se liggaam onder raaiselagtige omstandighede langs ʼn snelweg in Pretoria opgespoor is. Van Aswegen se ma, Cecelia, het vandeesweek aan Maroela Media gesê die familie het berusting nodig. “Ons het Johan verlede Woensdag in Alberton begrawe, 30 dae nadat hy 32 jaar oud geword het,” het ʼn emosionele Cecelia gesê. Sy het haar seun op 19 Oktober omstreeks 16:00 vir die laaste keer lewend gesien. “Johan het deur ʼn baie moeilike tyd gegaan. Hy was die afgelope vier maande werkloos nadat hy voorheen as ʼn verkoopsverteenwoordiger gewerk het. Hy was ook gewikkel in ʼn moeilike egskeiding en het probeer om besoekreg vir hul tweejarige dogtertjie, Kayleigh, te kry. Ons was juis daardie Maandag in die hof. Hy bly in ʼn woonstel naby my in Alberton en ek het hom die laaste keer gesien toe ek hom daar gaan aflaai het.” Cecelia het die aand omstreeks 20:30 ʼn SMS van ʼn vriend van haar seun, wat in dieselfde woonstelblok woon. “Die vriend het gesê hy kon sien dit gaan sleg met Johan. Hy het Johan oortuig om saam met hom by sy vriendin in Pretoria te gaan kuier sodat Johan ʼn bietjie kon uitkom. Die vriend het gesê hy en Johan het in die motor in ʼn geveg betrokke geraak en dat hy Johan op die N14- snelweg in ‘n noordelike rigting, naby Jeanlaan, uit sy motor gedwing het.” Cecelia het Johan op 20 Oktober as vermis aangemeld by die Alberton-polisie nadat hy nie by sy woonstel opgedaag het nie. Hy het sy selfoon, beursie en ID daar gelos. Sy het die Dinsdagoggend omstreeks 06:30 haar suster, Lizzie Allworth, gebel om te help soek aangesien Allworth in Pretoria woon.
Allworth het aan Maroela Media gesê sy het dadelik probeer om met die vriend kontak te maak om presies uit te vind waar hy Van Aswegen uit die motor laat klim het. Sy is omstreeks 08:00 na die omgewing en het vir sowat twee ure rondgery sonder om enige teken van Johan te vind. Sy het vir mense foto’s van Johan gewys en haar kontaknommer by sleutelpersone gelos. Johan van Aswegen. Foto: Verskaf Sy het omstreeks 16:00 weer in die omgewing gaan soek en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum gebel nadat sy hul nommer gekry het. “Die vrou in die beheerkamer het vir my gesê om een van hul lede by die Sasol-vulstasie in die omgewing te ontmoet. Ons het tot omstreeks 20:00 daar gewag en intussen hospitale en kontakte gebel om na Johan te soek,” het Allworth gesê. Die GPF-lid het intussen gerugte gehoor dat ʼn ambulansdiens hom moontlik tussen 19:00 en 20:00 die Maandagaand op die hoofweg sien loop het. Ná nog talle oproepe, na onder meer die staatslykshuis, het die GPF-lid gesê ʼn die liggaam van ʼn man wat by Van Aswegen se beskrywing en kleredrag pas, is by die lykshuis. Daar was ook ʼn tatoeëermerk met die naam Kayleigh op sy linkerarm.
Allworth het saam met haar ma na Cecelia se huis in Alberton gery en Cecelia se twee dogters en haar broer gebel om haar by te staan om die nuus aan haar oor te dra. Die gesin het Van Aswegen se liggaam op 21 Oktober gaan uitken. Hy het ʼn blou oog en kneusmerke aan sy voorkop gehad. Daar was ook merke aan sy vuis en rug en ʼn ernstige wond aan sy agterkop. Johan van Aswegen. Foto: Verskaf. “Die boek by die lykshuis het gesê Johan se liggaam is die Dinsdagoggend omstreeks 01:00 langs die N1 Noord-snelweg naby die Nellmapius-brug gevind. Die oorsaak is beskryf as ʼn PVA [Pedestrian Vehicle Accident]. Maar dit is baie vreemd, want nie een van sy bene is gebreek nie.” Die plek waar hy glo afgelaai is en die plek waar sy liggaam gevind is, is op die dieselfde snelweg, sowat 6 km uit mekaar. Die susters doen ʼn beroep op enigiemand wat Van Aswegen die aand van 19 Oktober op die snelweg opgemerk het, of ʼn verdagte voertuig daar sien staan het, om die ondersoekbeampte, konst. Leon Meyer van die Wierdabrug- polisiestasie, te bel met inligting. Van Aswegen het ‘n bruin broek en T-hemp aangehad. Die ambulansdienste wat hom moontlik sien loop het, word ook versoek om hom te bel. Ooggetuies se inligting kan bepaal of Van Aswegen moontlik wou terug stap huis toe en deur ʼn voertuig getref is, of moontlik vermoor is. Die polisie het aan Maroela Media bevestig ʼn geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur. “Die moontlikheid bestaan dat hy moontlik deur ʼn vragmotor se kantspieëltjie teen die kop getref is, of dalk vermoor is. Ons is besig om verklarings van alle partye te neem. Die ondersoek duur voort.”
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/sa-nuus/ma-se-pleidooi-na-seun-se-liggaam-langs-pta-snelweg-gevind-word/

#StopWhiteGenocideInSA