(Jwplayer)

November 18, 2015

#ATTACK: Durbanville motorist dodges bullets after he witnessed a officer getting shot

 


'Ek sien my lewe voor my afspeel' 

Kaapstad. – In die paar sekondes wat hy in die loop van die vuurwapen gekyk het, het sy lewe voor hom afgespeel. 

“Al waaraan ek kon dink, was dat ek nog my tweejarige dogtertjie wou sien grootword,” het Wynand Lizamore (43) van Durbanville Dinsdag vertel.

Lizamore was ’n ooggetuie van die voorval waarin ’n man Dinsdag omstreeks 10:00 vir Nizaam Alexander (35), ’n munisipale verkeersbeampte van Kaapstad, in die skouer geskiet het toe hy ’n motor vir ’n verkeersoortreding kort voor die Borcherds Quarry-afrit voorgekeer het.

Kort daarna het die aanvaller, wat langs die snelweg ge¬stap het, skote op Lizamore se voertuig geskiet en toe die vuurwapen op hom gerig.

Lizamore, wat in stadig bewegende verkeer gesit het, het vertel hoe Alexander met die twee insittendes van ’n goudkleurige Mercedes-Benz gepraat het toe die aanvaller van agter op die verkeersbeampte losgebrand het. 

“Gelukkig het hy sy koeëlvaste baadjie aangehad en het die koeël bo die baadjie deur sy regterskouer gegaan.” (sien foto)

Volgens Lizamore het Alexander sowat drie skote op sy aanvaller teruggevuur.

Terwyl die aanvaller weggehardloop het, het hy op die vragmotor voor Lizamore en toe ook op Lizamore se voertuig geskiet. Dié koeël het die reling langs die pad getref. 

“Hy het die vuurwapen etlike sekondes lank op my gerig gehou toe hy by my verby is. Ek het my lewe by my sien verbygaan, maar gelukkig het hy toe weggehardloop,” het Lizamore vertel.
Die verkeer is etlike ure lank ontwrig.

Die motief vir die aanval is nog onbekend en die aanvaller is nog op vrye voet.

Alexander is in die Life Vincent Pallotti-hospitaal behandel en ontslaan. 

Richard Bosman, Kaapstad se hoof van veiligheid en sekerheid, het gesê Alexander het ’n vleiswond opgedoen en sal berading ontvang. 

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het die gebied waar die voorval plaasgevind het as ’n roofbrandpunt bestempel. Dit is egter die eerste keer dat een van hul beamptes daar aangeval is. 

Beeldmateriaal van die kamera op die instrumentepaneel van Alexander se voertuig is volgens Smith aan die polisie oorhandig. Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras langs die pad sal ook aan die polisie oorhandig word. – Maygene De Wee

https://facebook.com/DieBurgerKoerant/photos/a.482927738102.290509.350965728102/10153754672673103/?type=3&source=48&ref=bookmarks

#StopWhiteGenocideInSA