(Jwplayer)

September 14, 2015

#ATTACK: Singer Mathys Roets & girlfriend hid between two floors in home elevator during home invasion. The black attackers ran off with his "most important things"



Mathys Roets loop deur onder boewe

Die sanger Mathys Roets en sy vriendin het die huis se hysbak tussen twee vloere gestop en daar geskuil terwyl inbrekers sy “belangrikste goed” weggedra het.
Roets en Jané van Litsenborgh het Saterdag 05:00 wakker geskrik toe die alarm van Roets se huis in Eldoraigne, Pretoria, afgegaan het.
“Ek het gehoor daar is iemand in die huis, maar hulle was so suutjies dit kon net sowel die katte gewees het.”
Roets en Van Litsenborgh het in die huis se hysbak gaan wegkruip.
“Ons het afgegaan en die hysbak tussen die twee vloere gestop,” het Roets verduidelik. Hulle het sowat drie minute daar gesit en wag totdat hulle die veiligheidswagte van ADT om die huis gehoor het.
“Toe het ons eers uitgegaan,” het hy gesê.
Volgens Roets het die inbrekers ’n rugsak met sy mikrofone en ’n iPad wat met sy koordlose klankbord werk, weggedra.
Hulle het ook sy televisie gesteel en ’n data-projektor wat hy gebruik wanneer hy toesprake doen.
Hy meen die toerusting is sowat R50 000 werd.
“Dit is goed wat ek baie nodig het. En my mikrofone is soos my skoene.
“Ek sing nie met iemand anders se mikrofone nie.”
Volgens Roets het die skelms ’n gevriesde plaashoender, wat hy by ’n vriend gekry het, gebruik om die elektriese omheining plat te hou toe hulle gevlug het.
“Ons het gehoor hoe hulle oor die heining spring toe die heining se alarm ook afgegaan het,” het hy gesê.
Volgens Roets het hulle ’n venster in die kombuis gebreek om by die huis in te kom.
“Ek bly al 16 jaar in daardie huis en daar was nog nooit ’n voorval nie.”
Roets sê sy labrador, Penny, het eers wakker geword toe die veiligheidswagte opgedaag het.
“Ek is maar ontsteld. Maar ek was al banger in my lewe.
“As hulle ons wou skraap, sou hulle na die boonste verdieping toe gekom het,” het hy gesê.
Volgens Roets oorweeg hy dit om dalk ’n rottweiler as waghond te kry en sy veiligheid hier en daar op te knap om tyd te wen indien so iets weer sou gebeur.
“Maar een ding wat ek nié gaan doen nie, is om in vrees te leef.
‘Ek hou te veel van my huis en die bome en die voëls. Ek gaan nie toelaat dat so ’n voorval my in vrees laat leef nie.”
Die sanger sê hy neem wel aanstoot dat die boewe nie sy CD’s gesteel het nie.
“Die kassie met al my CD’s is nog net so daar,” het hy geskerts.


http://www.netwerk24.com/nuus/misdaad/2015-09-13-mathys-roets-loop-deur-onder-boewe?vc=za%2F%2BsjZW3XZ1lywXaPpbGlP4YHKDAM6SfV5rlMraP0TvbzNSZ1gNkj%2BdaRrN%2BTlFhlijqtjlPSUS2SgEHHWpyQ%3D%3D

#ATTACK