Man se skedel gebreek tydens plaasaanval
‘n Vyf-en-vyftigjarige man van De Wildt het skedelbreuk en steekwonde opgedoen toe drie gewapende swart mans die gesin Vrydagaand in hul huis aangeval het
Johan Freyssen, sy vrou Rohena, hul dogter en ‘n vriendin met haar baba, was tydens die aanval in die huis.
Johan, die bestuurder by ‘n hoenderplaas, was besig om ongeveer 19:30 televisie te kyk, en Rohena was in die kombuis toe ‘n gewapende man die huis binnekom.
“Ons het pas die alarm afgesit want Johan was op pad om ‘n veiligheidsrondte op die plaas te ry, toe die man instorm,” het Rohena vertel.
Die man het Rohena aangesê om na Johan in die sitkamer te gaan.
“Die paniekknoppie was in my sak, maar ek het telkens die verkeerde knoppie, wat die hek laat oopgaan, gedruk,” sê sy.
‘n Tweede man het die huis binnegekom en hulle het Johan gegryp en na buite gesleep.
Rohena het na die kamer gehardloop waar die jong meisies was. “Toe ek die kamerdeur oopmaak, toe sien ek ‘n derde man rig ‘n pistool op hulle van die kamer se buitedeur. Ek het die deur toegeklap en met die trappe opgestorm na die ander paniekknoppie en die burgerbandradio. Een van die mans het weer ingekom en halfpad agter my aan die trappe opgehardloop, maar toe gaan die alarm af en hy hardloop uit.”
Intussen het die twee mans Johan buite erg aangerand. “Toe ons by die deur kom, het ek die een baklei, maar toe slaan die ander een my met ‘n wielsleutel of pyp oor die kop. Ek het inmekaar gesak,” sê Johan. Hulle het hom ook oor die rug ge-slaan en met ‘n skroewedraaier gesteek.
“Toe die alarm afgaan, het hulle gevlug. Die rower by die meisies se kamer het al skietend weggehardloop.”
Die egpaar se dogter is ‘n paramedikus en kon omiddellik noodhulp toepas terwyl hulle vir die ambulans gewag het.
“Ek het nog nooit soveel bloed gesien nie. Sy kop het oopgebars. Lede van die De Wildt Helpmekaarmaatskappy was enkele minute na my roep op die radio hier en het ons wonderlik bygestaan,’ sê Rohena.
“Hoewel sy skedel gebreek is, het Johan wonderbaarlik geen bloeding of drukking op die brein opgedoen nie.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. http://kormorant.co.za/11974/man-se-skedel-gebreek-tydens-plaasaanval/
#FarmAttack