As haar familie al by die ingang van die vrouesaal is by die Middelburg Hospitaal, hoor hulle hoe sy aaneen kerm en skree van die pyn
Maar al is Bets Claassen (77) se liggaam deurtrek van die bedsere, sê sy steeds vir die verpleegpersoneel wat haar versorg, “Liefietjie” en “My Darling.”
Haar kinders is paniekbevange as hulle daagliks die agteruitgang moet aanskou en die hospitaal se antwoord op hul navrae is net: “Jul ma het met ‘n bedseer hier aangekom!”
Me. Gerda Hendriks kan nie aanvaar dat haar ma sulke pyn moet deurgaan nie.
“My ma is ‘n lady! Sy het nog op die dag wat sy geval het werk vir die gemeenskap gedoen en nou word sy so behandel! Ons het ‘n baie goeie ma, ons kan dit nie net so los nie. Moet ons haar los dat sy net doodgaan?”
Me. Hendriks sê dit is onwaar dat haar ma met ‘n bedseer by die hospitaal aangekom het. Volgens haar het haar ma op 3 Februarie geval en haar heup gebreek terwyl sy nog besig was by haar blyplek. “Sy het niks makeer nie en nie ‘n merkie op haar lyf gehad nie.”
Sy het saam gery toe me. Claassen per ambulans na die Middelburg Hospitaal geneem is. Die gesin het groot geskrik toe sy op 7 Februarie ook ‘n hartaanval gekry het en daar vir hulle gesê is dat ‘sy sterwend’ is.”
Me. Claassen het egter weer bygekom, maar haar liggaamlike toestand het hierna dag vir dag agteruit gegaan.
Op 10 Februarie het haar kinders opgemerk dat ‘n bedseer besig is om te vorm. Hulle voel dit is “omdat sy vir agt dae net op één plek bly lê het.”
Me. Hendriks vertel hoe hulle gereeld hul ma se wonde self skoongemaak het en dat die hospitaal hul gevra het om sekere salwe saam te bring.
“Hulle het géén probleem voorheen gehad toe ons haar skoongemaak het nie.”
Toe hulle egter begin navraag doen omdat daar oral op haar lyf bedsere begin vorm, het die hospitaalpersoneel se houding teenoor hulle totaal verander.
As hulle navraag gedoen het oor hul ma se toestand by verpleegpersoneel, is daar vir hulle gesê om die dokter te vra. Hulle het wel by ‘n dokter navraag gedoen, maar sy het, volgens me. Hendriks, aggressief geraak en gesê: “It is hands off now.”
Toe hulle die dokter vra of sy bedoel dat sy nie meer na hul ma sal kyk nie, het sy vir hulle gesê: “Yes, it is your fault.”
Me. Hendriks sê dit “is verskriklik om in die gang af te stap en jy hoor al van ver af hoe my ma aanmekaar skree: ‘Help my net!”
Sy meld dat as hul ma so skree van pyn en hulle vra personeel vir pynmedikasie, “word ons net geïgnoreer.”
Hulle het die kwessie opgeneem met dokters en die Kliniese Bestuurder, dr. Lientjie Ntuli.
Volgens die gesin versleg haar toestand egter steeds daagliks. “Sy het nie meer ‘n boud aan die een kant waar ‘n massiewe bedseer sit nie en die ander boud, haar nek en voete is ook deurtrek van die bedsere. Ons kan dit nie net so aanvaar nie!”
Weens haar liggaamlike agteruitgang is hul ma soms deurmekaar en as dokters of personeel vir haar vra of alles reg is, dan antwoord sy bevestigend.
“Ma Bets sal nooit kla nie, maar sy is te deurmekaar om te sê as daar iets fout is!”
• Me. Hendriks sê sy is verder omgekrap omdat sy soms leë aarvoedingsakke en naalde op haar ma se bed gekry het en omdat personeel nie haar ma probeer voer nie, want sy kan nie self eet of drink nie.
• Dr. Ntuli het by navraag deur die Observer gesê dat hulle “alles aan die familie verduidelik het en as hulle nie tevrede is nie, kan hulle die provinsiale gesondheidskantoor kontak.” Sy wou nie enige verdere inligting verskaf nie.
http://mobserver.co.za/45568/vrou-deurtrek-van-bedsere/