Petro van Dyk Maartens en Francois Maartens #StopWhiteGenocideInSA |
Vrou in waakeenheid ná skietery buite kuierplek
‘n Vrou van Pretoria-Noord is sowat ses keer geskiet buite ‘n gewilde kuierplek in Pretoria-Noord in die vroeë oggendure van Vrydagoggend.
Petro van Dyk Maartens (50) is in ‘n stabiele toestand nadat sy sowat ses keer by die Blou Bul Ranch in Akasia, Pretoria-Noord, geskiet is.
Francois Maartens sê sy vrou het een van hul werkers tuis gaan aflaai. Toe sy na die tyd by die hek van die plot stilgehou het sodat ‘n ander werker die hek kon oopmaak, het vier mans hulle oorrompel.
“Ek vermoed hulle het agter die groot kragkas weggekruip want my vrou sê daar was niemand in die straat toe sy gestop het nie. Ons kyk elke aand daarvoor uit as ons so laat ry.”
Maartens sê twee mans het die persoon by die hek vasgehou terwyl ‘n gewapende man vir Petro Maartens beveel het om uit die voertuig te klim.
Sy het glo daarna die motor in eerste rat gesit en probeer wegkom, waarna een van die mans op haar geskiet het.
“Sy is in albei skouers, bors, maag, linkersy en regterbeen geskiet. Sy het tot by die huis gejaag waar ek haar gehelp het.”
Daar is blykbaar twee patrone wat in haar bo-been vassit. Dokters sukkel om die patrone te verwyder omdat dit glo te naby aan die hoofslagaar sit.
Maartens sê misdaadvlakke in die omgewing is redelik hoog, en dat daar sowat ‘n maand gelede ook ‘n skietery by hul bure was.
Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
http://rekordnorth.co.za/69062/vrou-in-waakeenheid-na-skietery-buite-kuierplek/