ʼn 65-jarige man is Vrydag kritiek beseer nadat hy tydens ʼn vermeende padwoede-aanval met ʼn drinkglas aangerand is. Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 18:00 in Effingham, noord van Durban, plaasgevind. “Dit is nie duidelik wat tot die voorval gelei het nie. Met paramedici se aankoms is die bebloede man in sy motor aangetref. Hy het oor die stuurwiel geleun met erge beserings aan sy gesig,” het Van Reenen gesê. Die man is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Sy toestand was ernstig, maar stabiel. Die polisie het ondersoek ingestel by die toneel. Van Reenen het gesê die man wat glo die pensioentrekker met die glas aangerand het, het na bewering van die toneel probeer vlug. Ooggetuies het egter die voorval gesien en leidrade aan die polisie verskaf. Dit is nog nie duidelik of die man opgespoor is nie. Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag vir terugvoer.
http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/pensioentrekker-kritiek-na-padwoede-aanval/
#StopWhiteGenocideInSA