Bruce Marsh en sy verloofde, Elinda Bosker
Barmhartige Samaritaan aangeval
n Man is Sondagaand aangeval na hy ’n ‘beseerde’ probeer help het
’n Man se goedhartigheid is Sondagaand met beserings beloon toe vier boosdoeners hom in Rietfontein aangeval het.
Dié barmhartige Samaritaan het homself ontferm oor ’n man wat in die straat gelê het. Die ‘beseerde’ het skielik opgespring met ’n mes in sy hand.
Hy en drie medepligtiges het die weldoener toegetakel.
Bruce Marsh (27) wag om ’n operasie te ondergaan by Steve Biko akademiese hospitaal, vertel sy verloofde Elinda Bosker.
“Daar is nie nou vir hom ’n bed nie en hy moes terug huis toe waar hy wag tot Donderdag vir die operasie.”
Marsh was Sondagaand omstreeks 23:00 op huis toe, toe hy iemand in 20e Laan in die pad gewaar.
“Hy het eers gedog dis dalk ’n kind of iemand wat raakgery is,” vertel Bosker.
Marsh het stilgehou om die skraal figuur op die grond te hulp te snel.
“Toe hy naderbeweeg, het die man skielik opgespring met ’n mes in sy hand. Drie ander mans het skielik op die toneel verskyn en Marsh aangeval,” vertel sy verloofde.
“Hulle wou sy kar se sleutels hê, maar kon dit nie by hom kry nie.”
Marsh se redding was die rooi ligte van ’n polisie-voertuig.
“Hulle het hom toe net gelos – nie eens die kar deurgesoek nie, en gevlug,” vertel Bosker.
Marsh sê sy aanvallers het in ’n rooi Toyota Tazz weggejaag.
Hy het self huis toe bestuur, waarna hy na die hospitaal gehaas is.
Sy beserings sluit in ’n gebreekte ribbebeen en ’n kraak in sy elmboog.
“Hy het baie seergekry, maar die belangrikste is dat hy nog lewe,” sê Bosker. http://rekordmoot.co.za/52019/barmhartige-samaritaan-aangeval/