Banke sal Grondwethof toe oor onteiening
Deur Nico van Burick
3 Mei 2016
Die onteiening van grond gaan nie só maklik deurgevoer word nie, sê die Bankvereniging van SA.
Die handelsbanke sal die Grondwethof nader om sekere aspekte van die Onteieningswet ongrondwetlik te laat verklaar sodra dit onderteken word, het mnr. Ernst Janovsky, hoof van AbsaAgribesigheid se sentrum vir uitnemendheid, onlangs gewaarsku. Nico van Burick het gaan kyk wat die banke se standpunt is.
Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), pleit by die Regering om ʼn gebalanseerde benadering met dieOnteieningswetsontwerp te volg ten einde die onberekenbare risiko wat dit vir banke inhou, te verminder.
Basa, wat 32 handelsbanke verteenwoordig, sê in sy kommentaar op die voorgestelde wetgewing dat die banksektor ʼn kritieke belanghebbende is weens die aansienlike bedrae krediet wat toegestaan word op eiendomme.
Reeds in ʼn voorlegging aan die parlementêre portefeulje komitee vir openbare werke in Julie verlede jaar het Basa daarop gewys dat altesaam R2,3 biljoen se verbandlenings, waarvan sowat R70 miljard se verbandlenings dié van die landbousektor is, by handelsbanke gesetel is.
Vyf kritieke kwellinge bestaan, wat volgens Basa aangespreek moet word om die wetsontwerp gebalanseerd en volhoubaar te maak. Dit sluit in dat dit in lyn moet wees met internasionale norme; dit moet in lyn wees met die Grondwet; daar kort duidelikheid oor definisies; beskerming van eiendomsregte en toepassing van die beginsel van regverdigheiden billikheid.
Basa het sy vernaamste kwellinge en aanbevelings in vier afdelings verdeel:
1. Onteiening voor toegang tot die howe.
Die wetsontwerp maak voorsiening dat onteiening kan voortgaan as ʼn ooreenkoms oor vergoeding nie bereik kan word nie. Die eienaar kan hom dan tot die hof wend maar hy word ontneem van sy eiendom sowel as enige vergoeding totdat die saak besleg is.
Basa sê in baie gevalle sal eienaars nie die regskoste kan betaal nie en as hulle ʼn inkomste uit die eiendom verdien, sal hulle daarsonder ook moet klaarkom. Dit kan hulle verplig om enige aanbod te aanvaar.
Verder is daar nie duidelikheid oor wat met onteiening vir “openbare doeleindes” bedoel word nie. Daar is sowat 70 staatsinstellings wat sal kan onteien en daar kan maklik misbruik wees.
Aanbevelings: ʼn Duidelike definisie van “openbare doeleindes” in lyn met internasionale norme. As die eiendom nie gebruik word vir die doel waarvoor dit onteien is nie, moet die eienaar dit kan terugkoop teen die vergoedingsbedrag. Die publiek moet bevoordeel word by onteiening en nie net ʼn individu nie.
2. Vergoeding
Die wetsontwerp maak voorsiening vir 80% van die vergoeding by onteiening en 20% later. Die rente op die uitstaande bedrag is onaanvaarbaar laag en benadeel die eienaar , veral as die proses uitgerek word.
Aanbevelings: By onteiening moet 100% van die vergoeding betaal word. Indien 20% later betaal word, moet dit teen ʼn aanvaarbare rentekoers wees en binne 12 maande betaal word.
3. Verwatering van regte
Die banke se regte as verbandhouers word nie in ag geneem nie. By onteiening moet die verbandhouer betrek word by die prosesse en vergoeding en moet die verbandhouer instem tot die proses. Dit lyk of dit nie die geval is nie en daarom is dit strydig met die Grondwet en ook insolvensiewetgewing.
Aanbevelings: Waar ʼn verband op eiendom is, moet die verbandhouer deel van die proses vorm ook wat kennisgewings en vergoeding betref. Die definisie van “eiendom” moet beperk word tot nie-roerende bates en natuurlike hulpbronne om dit in lyn te bring met internasionale norme en standaarde.
4. Bepaling van ‘regverdige en billike’vergoeding
Van die vyf faktore wat in ag geneem word, is markwaarde net een. Finansiële instellings word deur die Bankwet verplig om markwaarde te gebruik as maatstaf vir lenings. As die onteieningsliggaam se vergoeding minder as markwaarde is, beteken dit ʼn verlies vir beide die finansiële instelling en die eienaar.
Indien banke verliese ly sal hulle lenings vermy waar eiendom as sekuriteit aangebied word of hulle sal meer konserwatief raak in die toestaan van lenings en hulle uitleenkoerse verhoog. Dit kan lei tot voedselonsekerheid, werksverliese en finansiële uitsluiting.
Basa sê dit was juis om dié rede dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming in 2012 ʼn waarborg gegee het dat uitleners nie verliese sal ly as vergoedingsvlakke laer as markwaarde is nie.
Aanbeveling: Hierdie waarborg moet in die wetsontwerp ingeskryf word.
Slotbetoog
In sy slotbetoog sê Basa wêreldwyd is onteiening ʼn emosionele en omstrede kwessie. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie waarsku dat dit maklik tot magsmisbruik kan lei en dat goeie regering nodig is om ʼn balans te vind tussen die noodsaaklikheid vir die staat om grond te bekom en die beskerming van eienaars se regte.
“Die banksektor steun die Regering se pogings om wanbalanse van die verlede reg te stel deur prosesse soos grondhervorming,” sê mnr. Cas Coovadia, besturende direkteur van Basa. “Dit moet egter volhoubaar wees en nie omstandighede skep wat die probleem vererger nie.
“As die wetsontwerp nie aangepas word soos voorgestel nie, kan dit tot ʼn verdere verwatering van eiendomsregte lei en plaaslike sowel as buitelandse beleggers ontmoedig met negatiewe sosio-ekonomiese gevolge vir die land.”
http://landbou.com/nuus/banke-sal-grondwethof-toe-oor-onteiening/
#StopWhiteGenocideInSA