Vermiste pa se lyk in hotel gevind
ʼn Soektog na ʼn vermiste pa van Durban het tragies geëindig toe sy liggaam in ʼn hotelkamer in South Beach gevind is. Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Hannes Craemer (28) se liggaam is Donderdag deur hotelpersoneel in een van die kamers gevind. Hy is in die kop geskiet. Hy is op 30 November as vermis aangemeld, nadat hy vir die laaste keer deur sy kollegas by die werk gesien is. Volgens Zwane het ʼn 43-jarige man op Maandag, 30 November, by die hotel ingeboek vir twee aande. “Hy is later by die hotel weg en het saam met Craemer teruggekeer. Die twee mans is na die hotelkamer. Die man is omstreeks 19:30 weer uit en het nie weer teruggekeer nie. Craemer het nie weer uitgekom nie en daar was ʼn moenie-steur-nie-kennisgewing op die deur,” het hy gesê. Teen Donderdag het hotelpersoneel onraad vermoed omdat Craemer nog steeds nie uitgekom het nie en die hotelgas ook nie weer teruggekeer het nie. Hulle het ingegaan en Craemer se liggaam gekry. “Ons is nou op soek na die 43-jarige verdagte wat daardie dag saam met Craemer was. Hulle was na bewering sakevennote,” het Zwane gesê. “Sy identiteit is aan die ondersoekspan bekend en die polisie is steeds op sy spoor. ʼn Saak van moord word ondersoek.”
Maroela Media hou van 'n lekker warm debat en wil aan alle kuiermense die geleentheid gee om hul mening te lug. Ons sal egter geen rassisme, seksisme, homofobie, vieslike persoonlike opmerkings, ander vorms van haatspraak of kru, kras en vuil taal duld nie. Maroela Media behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder. Hou in gedagte dat Maroela Media en jy as kommentator aanspreeklik gehou kan word indien jy iemand se regte skend. Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie.
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/sa-nuus/vermiste-pa-se-lyk-in-hotel-gevind/