(Jwplayer)

September 23, 2015

Wave of arson-attacks in Heilbron: Afrikaners suffered damage estimated at millions of rand due to arson and malicious damage to property



André Broodryk (links) en sy broer Pieter het Maandagnag meer as R1 miljoen se skade gely nadat Heilbron se berugte brandstigters weer met hul verwoestingswerk begin het

Verwoestingspoor......Heilbron-brandstigters se skrikbewind van 3 jaar duur voort

Deur Alet van der Walt Woensdag 23 September 2015

HEILBRON. – Dié dorp se berugte, geheimsinnige brandstigters het weer toegeslaan. Hulle het Maandagnag, in ’n stadium selfs in gietende reën, ’n spoor van verwoesting agtergelaat toe hulle minstens nege voertuie aan die brand gesteek en honderdduisende rande se skade aangerig het.

Dié brandstigters voer reeds langer as drie jaar ’n skrikbewind en ondanks die indien van meer as 40 verskillende klagte teen hulle weens miljoene rande se skade, is nog niemand in hegtenis geneem nie.

Maandagaand was dit weer sulke tyd. Die brandstigters het net ná 23:00 eerste by die Broodryk-gesin in die dorp toegeslaan, vier voertuie aan die brand gesteek en buitegeboue in puin gelê.

Volgens André Broodryk het dit soos geweerskote in die motorhuise geklink. Die kwaaddoeners het vermoedelik ’n voorwerp deur ’n klein venstertjie gegooi om die brand te stig. Die skade beloop meer as R1 miljoen.

Volgens De Wet Dippenaar, nog ’n inwoner, is die booswigte uiters arrogant. Hulle is ná hul verwoestingswerk by die Broodryks sy erf binne, waar hulle verby sy slaapkamer gestap het voordat hulle in sy motorhuis in is.

Hier het hulle lappe en olie wat hulle daar gekry het, aan die brand gesteek en onder sy voertuig, ’n swart Alfa, gegooi. Die voertuig is erg beskadig.

Die brandstigters het hierna by die Trio-woonstelle twee dweils aan die brand gesteek wat onder twee motors ingedruk is om nog brande te stig.

Inwoners en die plaaslike polisie was teen dié tyd bewus van die nuutste vlaag brande en kon hier darem die vure blus en die skade beperk.

Van die Trio-woonstelle af het die brandstigters probeer om die motor van Brechie Malherbe buite die Riemland-apteek aan die brand te steek. Ook hier kon die skade beperk word.

Dinsdagoggend kort voor 04:00 is ’n Pakistanse burger en winkeleienaar, Meskela Bruke, se paneelwa aan die brand gesteek. Dit was ook die tweede keer dat hy onder die brandstigters deurgeloop het.

Dit het in ’n stadium hard in die dorp gereën, maar dit het nie die brandstigters afgeskrik nie en Bruke se paneelwa het byna heeltemal uitgebrand.

René Fourie van die Heilbron-gemeenskapspolisiëringsforum sê Heilbronners is al moedeloos. Die brandstigters van Heilbron loop steeds vry rond en dorpenaars is uitgelewer aan die genade van slegs een vuurvegter, soortgelyk aan dié wat boere gebruik, om hul eiendom teen brande te beskerm. Van ’n ordentlike brandweerwa is daar geen sprake nie.

Maandagnag moes Frankfort se brandweer 65 km ver ry om te kom help toe die voertuie op ’n streep in die dorp aan die brand gesteek is.

Volgens ao. Zweli Mohobeleli, polisiewoordvoerder, is geen verdagtes geïdentifiseer nie.

’n Klag van kwaadwillige beskadiging van eiendom word ondersoek. Niemand is beseer nie.

Mohobeleli het gesê dit is steeds nie seker wat die motief vir die brandstigtings is nie.

André Broodryk (links) en sy broer Pieter het Maandagnag meer as R1 miljoen se skade gely nadat Heilbron se berugte brandstigters weer met hul verwoestingswerk begin het. Die Broodryks het vier voertuie en ook buitegeboue verloor. Hulle was die eerste mense wat in die nuutste vlaag deurgeloop het. 
http://www.netwerk24.com/nuus/misdaad/2015-09-23-verwoestingspoor?vc=u0qPFGNbAOcwzSOW9%2BNBzWvQpjxZAT2smmIG704Y%2B8yUKV8pMkEHPV8aVssV%2FVtpK8sRzctcnlfUBMBmsiNPrg%3D%3D

ATTACK