(Jwplayer)

September 24, 2015

Brave elderly woman also a victim of crime in SA confronted criminal at Bloemfontein school

Dapper ouma peper booswig
Ter illustrasie
Ter illustrasie

'n Bloemfonteinse ouma, wat dapper genoeg was om 'n swart misdadiger aan te vat nadat hy rondgesnuffel het in 'n bakkie wat nie aan hom behoort nie, het vandeesweek by 'n skool in die stad vir groot opwinding gesorg. Dié ouma van 'n gr.1-leerling aan die Laerskool Fichardtpark, het Maandagoggend 'n booswig die skrik op die lyf gejaag toe sy en haar dogter haar kleindogter soos oudergewoonte by die skool gaan aflaai het. Sy verkies dat hul name nie gepubliseer word nie. Die dapper ouma vertel hulle laai soggens die kleinding net ná 07:00 by die skool af en parkeer gewoonlik hul motor in Rushby-straat. Sy wag dan in die motor vir haar dogter wat saam met haar kleindogter tot by haar klaskamer stap.
Volgens die ouma het sy Dinsdag, terwyl sy gewag het, 'n man wat verdag voorgekom het in sy motor gesien. Hy het sy motor voor haar motor geparkeer. "Dit was vir my vreemd dat hy sonder kinders in sy motor by die skool stop." Sy vertel die man het die hele tyd rondgekyk en toe stadig gery en tussen ander ouers se motors 'n ent verder naby die skool se heining gaan parkeer. Sy kon steeds duidelik sien wat hy doen.
Die donkerkop ouma wat jonk van gees is, sê sy weet nie waarom die motor waarin die man gery het, se GP-registrasienommer haar opgeval het nie, maar sy het nietemin besluit om dit neer te skryf op 'n stukkie papier wat byderhand was. Sy vertel dat sy die registrasienommer twee keer neergeskryf het om doodseker te maak dit is duidelik leesbaar.
Sy het die man die hele tyd dopgehou, omdat sy hom al voorheen by die skool gesien het en geweet het hy het geen belang daar nie. Die ouma, wat nie 'n bang haar op haar kop het nie, sê sy was egter onseker of hy voorheen dieselfde motor gebruik het. Sy vertel die man het 'n ruk in sy motor gesit, uitgeklim en "heel rustig" na 'n leë bakkie gestap wat naby sy motor gestaan het.
Haar dogter was steeds nie terug by hul motor nie. Sy het onraad vermoed toe die man 'n bakkie, wat sy weet behoort aan 'n ouer wat ook soggens sy dogtertjie by die skool aflaai, se deur aan die bestuurderskant oopmaak. Hy het die bakkie se sitplek vorentoe getrek en rondgegrou. "Ek dink hy het iets gesoek in die bakkie, maar toe maak hy die deur skielik toe en stap weg." Sy het geweet dit is tyd om op te tree en het vinnig uit haar motor geklim en in die rigting van die man gehardloop. Sy kan nie onthou of hy in daardie stadium iets in sy hand gehad het nie. "Toe hy in sy motor klim, was ek by hom."
Sy het vir hom deur sy motor se ruit, wat op 'n skrefie oop was, geskree dat sy gesien het wat hy doen. Sy het dit duidelik aan hom gestel dat sy die motor se registrasienommer neergeskryf het. Volgens haar was die man alleen in sy motor. Hy het slegs na haar gestaar, sy motor aangeskakel en agteruit begin ry waarna die voertuig gestol het. Hy het dit weer aangeskakel en weggery. Hy het verbouereerd voorgekom. "Hy was tjoepstil, dalk kon hy nie glo dat 'n vrou die moed het om hom aan te vat nie."
Die ouma sê sy was nie bang om met hom te praat nie. Sy was woedend dat hy die vermetelheid gehad het om dit te doen. "Ek weet nie wat het my besiel het nie.
Ek is so moeg vir alles wat in ons land gebeur. Dit is tyd om hulle (booswigte) vas te vat." Sy is keelvol vir die misdaadsituasie nadat 'n kosbare halssnoer twee maande gelede in die middestad deur haar motorruit van haar nek geruk is. 
Nadat die booswig weggery het, kon die ouma nie wag om die eienaar van die bakkie oor die voorval in te lig nie. Sy het gebewe van skok. "My dogter het gesê toe sy my gesigsuitdrukking sien, het sy geweet daar is iets fout."
Die eienaar van die bakkie, wat ook verkies om anoniem te bly, sê hy kon sien die ouer vrou was in 'n toestand van skok. Hy kon nie sy ore glo nie en het besef dit was nalatig van hom om nie sy bakkie te sluit nie. Daar was waardevolle artikels in die bakkie, maar niks is gevat nie. Hy skryf dit toe aan die ouma se waagmoed. "Hy (die booswig) het dalk nie genoeg tyd gehad om iets te vat nie. Hy het seker groter geskrik as sy." Die man is nietemin dankbaar dat niks gesteel is nie. Hy is haar ewig dankbaar, maar is bekommerd dat die voorval by 'n skool plaasgevind het, want "dit is die laaste plek waar 'n mens verwag booswigte gaan toeslaan."
Hy is ook beïndruk met AfriForum-buurtwag se Sektor 5 (Fichardtpark, Hospitaalpark en Pellisier) se vinnige optrede. Voorsitter van dié sektor, Kobus Rossouw, sê daar het 'n boodskap op die sektor se Whatsapp-groep deurgekom kort ná die voorval. Die betrokke voertuig se registrasienommer is ook verskaf. Rossouw het vinnig navraag by die polisie gedoen. Daar is vasgestel dit is 'n huurmotor waarmee die booswig ry. Die plaaslike huurmotormaatskappy het dadelik betrokke geraak en die motor se opsporingstoestel is geaktiveer. Daardeur is vasgestel die motor is reeds naby Ladybrand.
Rossouw sê hy was voortdurend met die polisie in verbinding wat later die voertuig by Hobhouse afgetrek het en die man in hegtenis geneem het. Die verdagte word vermoedelik met ander soortgelyke misdrywe in Bloemfontein verbind. Dit het ook aan die lig gekom dat 'n vrou na bewering die motor namens die verdagte gehuur het. 
Die verdagte sou na verwagting Woensdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van die gebruik van 'n voertuig sonder toestemming, die besit van gesteelde eiendom en die besit van toerusting wat gebruik word om by voertuie in te breek. Bloemfontein Courant verneem vertroulik dat 'n vrou, wat al voorheen motors gehuur het namens die verdagte, Dinsdag in hegtenis geneem is. Die polisie het beslag gelê op elektroniese ware by die man se huis, wat na bewering gesteel is en waarmee hy toegang tot motors verkry het om waardevolle artikels daarin te steel
http://www.bloemfonteincourant.co.za/article/8057/Dapper-ouma-peper-booswig?utm_source=dlvr.it&utm_medium=facebook

ATTACK